Spoegwolf – Koma - [shop_name]

Spoegwolf – Koma

DIE GEWILDSTE ALTERNATIEWE-ROCK GROEP VAN HUL GENERASIE, SPOEGWOLF, IS TERUG MET NUWE MUSIEKVIDEO-ENKELSNIT EN ALBUM

DAAR IS GOEIE REDE OM “BLOU” TE VOEL DIE WEEK DANKSY SPOEGWOLF WAT HUL EERSTE ENKELSNIT VAN HUL NUWE OPWINDENDE ALBUM, KOMA, VRYSTEL

Maak jouself gereed om die beste “blou” week van jou lewe te geniet! Die gewildste alternatiewe-rock groep van hul generasie, Spoegwolf, is terug met hul eerste musiekvideo-enkelsnit (Blou), vanaf hul nuwe album, Koma, wat ook hierdie week vrygestel word.

Die vier manne van Spoegwolf het meer as 150 uitverkoopte konserte gedurende 2018 reg oor die land met hul aanhangers gedeel, wie net nie genoeg van hierdie unieke groep vanaf Stellenbosch kan kry nie.


Blou is deur die groep se hoofsanger, Danie du Toit, self geskryf. Hy vertel: “Ek het dit in Stellenbosch by Eersterivier geskryf. Dit gaan oor om nog ’n kans te kry. Eintlik is dit meer van ’n observasie as wat dit ’n boodskap aan mense wil oordra.”

Danie verduidelik hoekom dit die eerste smakie van Koma is: “Ons het gevoel dit is die liedjie wat ons lewens van die afgelope jaar die beste uitbeeld. Blou klink ook anders as enige iets wat ons nog ooit vrygestel het.”

Blou is reeds op alle gewilde digitale platforms beskikbaar soos iTunes en Apple Music, en die volle album sal ook daar vanaf 14 Februarie te koop wees. Fisiese albums van Koma sal vanaf Maart in Musica beskikbaar wees, maar indien jy nie kan wag tot dan nie, kan jy joune nou op Spoegwolf se webblad bestel (shop.spoegwolf.com). Koma het ’n totaal van 14 snitte, waarvan 2 instrumentele verwerkings is.

Blou se musiekvideo is meestal in en rondom Paarl geskiet, behalwe vir die gedeeltes waar hul gehore in vervoering het soos net hul kan, wat vroeg in Februarie in Potchefstroom opgeneem is.

En waarom die naam Koma vir die album? Moskou du Toit verduidelik: “Die vrystelling is ’n konsep-album wat gaan oor trauma. Ons het gedink dat die idee van ’n koma goed daarby inpas. Die liedjies volg iemand wat deur iets vreeslik gaan – opstaan, val…opstaan, val…en dan uiteindelik besef dat daar niks oor is behalwe die noodsaaklike droom van liefde en die bietjie lig wat nog in hom blink nie. Die luister-ervaring moet voel soos ’n diep slaap; soos ’n koma.”

So hoe verskil Koma van Spoegwolf se vorige drie albums? Chris von Wielligh vertel gretig: “Ons het baie meer tyd op repetisies spandeer wat gelei het tot meer van ’n ‘rock’ verwerking op sommige van die snitte. Die album is ook ons mees volledige konsep-uitreiking met temas wat herhaal word en kunswerke wat bydra tot die storie. Die hele album vloei in een – van begin tot einde.”

Die album se kunswerk is deur Danie en Moskou se eie ma, Tertia du Toit, gedoen. Sê Chris: “Willem Samuel het ook tekeninge gedoen wat saam met ’n kortverhaal van Danie gaan. Dié tekeninge en storie is in die boekie van die album ingesluit – net nog ’n aangename verrassing wat op aanhangers wag.”

En hoe gaan dit met Spoegwolf as ’n groep? Albert van der Merwe sluit af: “Dit gaan baie goed. Ons is broers en sal altyd bly. Ons vriendskap is belangriker as enige iets anders, so ons sal geen musiek ooit bo dit plaas nie.

“Vir ons aanhangers wil ons sê – kom ons kyk mekaar in die oë met hierdie nuwe album. En geniet die reis waarop hy jou gaan neem!”

Vir meer besonderhede, besoek gerus spoegwolf.com.

Gesels ook saam op sosiale media: Facebook (Spoegwolf) en Instagram (SpoegwolfOfficial).

SPOEGWOLF IS:

Danie du Toit – Stem, Kitaar
Chris von Wielligh – Kitaar, Klavier
Moskou du Toit – Dromme, Stem
Albert van der Merwe – Baskitaar, Stem, Rap

Terug na die blog

Lewer kommentaar

Neem asseblief kennis dat kommentaar goedgekeur moet word voordat dit gepubliseer word.